’n Hart is so groot soos 'n vuis deur PP Fourie: ’n resensie

  • 3

’n Hart is so groot soos ’n vuis
PP Fourie
Kaapstad: Kwela
ISBN: 9780795710018

(Oorspronklike Engelse titel: The Heart is the size of a fist. Vertaal deur Marius Swart. Verskyn gelyktydig.)

Fourie se boek word op die buiteblad as “’n roman” beskryf. Van al die tradisionele genres is die roman seker die een wat die wydste oop is vir interpretasie, volgens Bakhtin die minste definieerbaar, omdat dit voortdurend in beweging is. Die feit dat hierdie boek doelbewus as ’n roman aangebied word en nie as ’n outobiografie nie, is egter veelseggend. Dit skep beslis die indruk van outobiografie en sou seker as ’n outobiografiese roman beskryf kon word.

 

’n Outobiografiese roman loop die gevaar om bloot ’n romanmatige lewensverhaal te wees. Milan Kundera het eens geskryf dat die dood van die roman al dikwels in die verlede aangekondig is, en dat hy kan glo dat die dood inderdaad in die pot van die romankuns is wanneer die boeke wat gepubliseer word, bloot “romanmatige lewensverhale” is. Hy stel dit sterk:

[F]or most novels produced today stand outside the history of the novel: novelized confessions, novelized journalism, novelized score-settling, novelized autobiographies, novelized indescretions, novelized denunciations, novelized political arguments, novelized deaths of husbands, novelized deaths of fathers, novelized deaths of mothers, novelized deflowerings, novelized childbirths – novels ad infinitum, to the end of time, that say nothing new, have no aesthetic ambition, bring no change to our understanding of man or to novelistic form, are each one like the next, are completely consumable in the morning and completely discardable in the afternoon. (Kundera 1996:17–8)

PP Fourie se ’n Hart is so groot soos ’n vuis sou maklik ’n boek van een of meer van bogenoemde soorte – “novelized autobiography” of “novelized score-settling” – kon wees, die soort boek wat volgens Kundera bydra tot die dood van die romankuns. Aan die een kant is dit ’n romanmatige lewensverhaal – die verhaal van ’n kind (Paul) en sy ma wat deur ’n vader mishandel word – Paul se pa is ’n alkoholis en dwelmverslaafde wat hom en sy ma fisiek en psigies aanrand. Hulle trek baie rond en Paul moet telkens in nuwe skole aanpas. Die pa se verwoestende effek op die ma en seun is skrikwekkend; die ma se herhaaldelike terugkeer na hom, en die gemeenskap en familie se anderkant toe kyk, is byna ondraaglik om te lees. Dit is egter ’n bekende verhaal wat maklik selfs cliché kan word (die seun wat sukkel met onsekerheid en identiteitsprobleme weens sy grootwordjare onder ’n dronk, dominerende en wrede pa). Soos Paul self opmerk: “Daddy issues is immers onaantreklik, ’n effense verleentheid en, kom ons wees eerlik, nogal vervelig by ’n middeljarige man” (199).

........

’n Hart so groot soos ’n vuis ontsnap egter aan die risiko om ’n “romanmatige lewensverhaal” te word omdat die estetiese ambisie daarvan te groot is, omdat die soeke na nuwe moontlikhede vir die romankuns te oorspronklik is, en omdat dit veral die idee van herinnering, die rol van onthou en vergeet in ons menswees fyn belig.

..........

’n Hart so groot soos ’n vuis ontsnap egter aan die risiko om ’n “romanmatige lewensverhaal” te word omdat die estetiese ambisie daarvan te groot is, omdat die soeke na nuwe moontlikhede vir die romankuns te oorspronklik is, en omdat dit veral die idee van herinnering, die rol van onthou en vergeet in ons menswees fyn belig.

Die rede waarom ’n Hart is so groot soos ’n vuis ’n roman word, ’n roman wat deelneem aan die geskiedenis van die romankuns deur die moontlikhede wat die romankuns as genre bied te verruim, is dat die verhaalgegewe anders behandel word. Die verhaalgegewe van ’n afwesige of dronk, gewelddadige vader en die lyding wat daardeur veroorsaak word, het al byna ’n standaardverhaal in die Suid-Afrikaanse literatuur geword. En daarmee maak ek die lyding van elke individu wat met so ’n vader worstel, nie as gering af nie. Dit is net dat die meeste van hierdie vertellings bloot in fyn besonderhede wissel, maar in wese dieselfde verhaal is wat oor en oor vertel word.

Fourie se roman doen dit nie.

Die rede waarom hierdie spesifieke vertelling oor ’n dronk pa en mishandelde ma en opgemorste seun uitstaan, is dat Fourie musiek maak met die taal en met die verhaal (en sekerlik is sy vertaler, Marius Swart se bydrae hier baie belangrik!). Daarin lê die boeiende van hierdie boek. Juis omdat dit musiek word, word elke klein herinnering, elke enkele gebeurtenis wat so maklik cliché kon gewees het, ’n bydrae tot ’n ingewikkelde groter patroon wat die menslike psige van verskeie kante ondersoek.

.........

Die rede waarom hierdie spesifieke vertelling oor ’n dronk pa en mishandelde ma en opgemorste seun uitstaan, is dat Fourie musiek maak met die taal en met die verhaal (en sekerlik is sy vertaler, Marius Swart se bydrae hier baie belangrik!). Daarin lê die boeiende van hierdie boek. Juis omdat dit musiek word, word elke klein herinnering, elke enkele gebeurtenis wat so maklik cliché kon gewees het, ’n bydrae tot ’n ingewikkelde groter patroon wat die menslike psige van verskeie kante ondersoek.

.........

Wat maklik nóg ’n storie oor ’n hartseer kleintyd en die gevolge daarvan in ’n grootmenslewe kon geword het (“niemand tref dit mooi met die heelal nie”), styg ver bo outobiografiese vertelling, geykte fiksie en sielkundige gevallestudies uit. Wat hierdie roman so ver laat uitstyg, het onder meer te doen met die humor (soms baie donker!), met die meesterlike vertelwyse (mens vermoed nie ’n debuutwerk nie) wat chronologie uitdaag. “En toe … en toe …” is nie die wyse waarop alles skakel nie; dit gebeur eerder deur die fyn verwewing van herhalende beelde, met deurlopende idees wat telkens uit ander hoeke bedink word, met refreine wat opklink.

Wanneer ’n storieverteller begin musiek maak, word hy ’n romanskrywer. En musiekmaak impliseer nie ’n soort mooiklinkende purperprosa en oordadige, te weldeurdagte beelde nie. Die tweede “hoofstuk” dra die titel, “Note van glas” en begin met ’n eenwoordsin: “Musiek.” Fourie se roman is nie bloot soos musiek gekomponeer nie; dit klink deurgaans, en musiekverwysings speel ’n belangrike rol. Van Carole King tot Arvo Pärt. Oor Pärt skryf Paul dat hy die meeste van sy musiek onluisterbaar vind, maar dat “die mooiste stuk musiek in die wêreld” Pärt se “Cantus in Memoriam Benjamin Britten” is:

Ek is bewus daarvan dat my reaksie op hierdie stuk musiek direk verband hou met sentiment, herinnering en konteks. Maar dalk is dit nie so problematies nie. Miskien is dit wat kuns moet doen: ons herinner aan ons meer ware self; outentisiteit eerder as kunsmatigheid weerspieël; ons verras met ’n vreemde eggo van diep binne af. (132–3)

Miskien is dit ook wat hierdie boek regkry. Al is die leser nie as kind op soortgelyke skrikwekkende wyse geweld aangedoen en psigies geterroriseer nie, is daar telkens iets in die teks wat die leser verras “met ’n vreemde eggo van diep binne af”.

........

Ja, en daarmee is dit gesê: Die roman bied ’n diep emosionele leeservaring. Dit is egter nie ’n maklike sentimentele wyse waarop die emosie gewek word nie. Daarvoor word die vertelling te beheerst aangebied. Die mees skrikwekkende gebeurtenisse van fisieke aanranding en psigologiese afpersing en marteling word dikwels met ’n afstandelikheid aangebied, ingehoue en byna emosieloos beskryf, soos iets wat agter glas gebeur, as herinnerings van lank gelede.

.........

Ja, en daarmee is dit gesê: Die roman bied ’n diep emosionele leeservaring. Dit is egter nie ’n maklike sentimentele wyse waarop die emosie gewek word nie. Daarvoor word die vertelling te beheerst aangebied. Die mees skrikwekkende gebeurtenisse van fisieke aanranding en psigologiese afpersing en marteling word dikwels met ’n afstandelikheid aangebied, ingehoue en byna emosieloos beskryf, soos iets wat agter glas gebeur, as herinnerings van lank gelede. Ander kere word daardie gebeurtenisse met humor versag (die kind en ma wat ingewikkelde planne beraam om die kar se sleutel te steel en die pa toe te sluit in ’n vakansiehuisie om te ontsnap). Soms word slegs die gevolge van die geweld beskryf  – soos die ma se letsels en beserings wat hulle voor ander mense probeer verduidelik – eerder as die geweld self.

Heel dikwels word die implikasies van die geweld, die ondenkbare wreedheid van sy pa en die oënskynlik nimmereindigende aard daarvan byna te veel vir die leser. Wanneer die jong man begin om kleintyd se trauma te verwerk en selfs weer ’n bietjie lewensvreugde begin vind, word sy pa op ondenkbare wyse weer deel van sy lewe en vernietig sy verhouding met ’n meisie wat hom begelei op die pad na herstel.

’n Hart is so groot soos ’n vuis is ook ’n grootwordroman. (Flaubert se Sentimental education word pertinent betrek.) Die geleidelike verwerwing van selfinsig en begrip van die lewe, van eiewaarde, van ’n eie identiteit en die moontlikheid om uiteindelik ook sinvolle verhoudings met ander mense te kan aanknoop en ’n suksesvolle loopbaan kan vestig is ’n inspirerende verhaal waarmee elkeen kan identifiseer. Kindertrauma het immers almal geraak (al lyk die meeste van ons se kindertrauma gelukkig nie so skrikwekkend soos hierdie geval nie) en die uitwerkings op ons lewens is soortgelyk, en daarom eggo iets vreemd van diep binne af wanneer ’n mens daarvan lees.

Die woord “ondersoek” word dikwels oorbruik in resensies. Gewoonlik word die woord benut om sekere temas aan te dui, sonder om ’n aanduiding te gee hoe die tema ontgin word. ’n Mens kan geredelik ’n hele lys van aspekte van menslike bestaan noem wat in die roman “ondersoek” word. Dit is immers ’n ondersoek na depressie: “die afwaartse spiraal na binne, tot almal anders agter water is en jy vir hulle waai, onsigbaar, in stadige aksie”. Dit is ook ’n ondersoek na seksualiteit, na “queer” wees: “Swye oor seksualiteit is ’n twyfelagtige luukse wat straight mense as vanselfsprekend aanvaar – die ding van queer wees is dat jy noodwendig jou seksualiteit op jou mou dra.” Dit is vanselfsprekend ’n ondersoek na verhoudings tussen ouers en kinders, maar ook tussen sibbe. Uiteindelik is die verhouding tussen Paul en sy halfbroer, Ben – byna twee dekades jonger as hy, van besondere belang, omdat dit ook in hierdie verhouding is wat ’n ander blik op die pa gebied word. Die roman is ook ’n ondersoek na ons gemeenskap waarin geweld teen vroue en kinders veronderstel is om hoë prioriteit te geniet, maar dit dikwels stilswyend toelaat. Maar dit is ook ’n ondersoek na hoe balans gevind kan word, prekêr miskien, in ’n hart wat vuis geword het . Dit is ook ’n ondersoek na die weerstandigheid van die menslik gees. – ’n ondersoek na oorlewing en hoedat alles wat mens ervaar “iets van mens maak wat jy miskien andersins nie sou wees nie – “en dit is seker goed én sleg” (188).

.......

Soos die titel aandui is die roman ook ’n ondersoek na liefde en geweld. Die hart wat as simbool van liefde dien word juis met ’n vuis, simbool van geweld en haat verbind. Met hierdie beeld word na sowel ’n woedende vuis en geweld as liefde en deernis in gelyke mate verwys. Die geweld en kan mens ook hard en koud maak vir die lot van ander.

........

Soos die titel aandui is die roman ook ’n ondersoek na liefde en geweld. Die hart wat as simbool van liefde dien word juis met ’n vuis, simbool van geweld en haat verbind. Met hierdie beeld word na sowel ’n woedende vuis en geweld as liefde en deernis in gelyke mate verwys. Die geweld en kan mens ook hard en koud maak vir die lot van ander.

Al die aspekte wat ’n mens op daardie vae manier kan noem as belangrike kwessies wat “ondersoek” word, skakel egter met herinnering, met die geheue. Baie belangrik is die omgaan met geheue. In hierdie verband is die drie motto’s voor in die roman belangrike sleutels. Die eerste motto, David Shields se opmerking dat enigiets wat deur die geheue verwerk word, fiksie is, eggo iets van Paul Ricoeur se waarskuwing in Memory, history, forgetting dat geskiedenis tussen onthou en vergeet lê en dat die enigste manier waarop die verlede opgeroep kan word, in die verbeelding is. (“Om te onthou is om te verbeel,” het Breyten Breytenbach in Papierblom geskryf.) Die derde motto, uit Rushdie se Midnight’s children, beklemtoon ook die onbetroubaarheid van die geheue. Maar dit is veral die tweede motto, uit Julian Barnes se The sense of an endng, wat deur die hele roman weergalm.

Soos tyd verbygaan, raak die dinge wat in die verlede gebeur het, nie vasgelê nie, maar eerder word die vasgelegde geskiedenis, dit wat vasgepen raak tussen onthou en vergeet, te geredelik aanvaar as ’n gegewe, selfs as ’n deurslaggewende en onveranderbare gegewe. Die Barnes-aanhaling herinner ons egter dat dit te gerieflik is om aan die vasgelegde gebeurtenisse in ons herinnerings vas te hou, dat hulle opnuut opgelos word soos tyd verloop, omdat tyd eintlik ’n oplosmiddel eerder as fikseerder is.

Telkens word ’n gegewe moment uit Paul se verlede opgeroep – sy sielkundige vra hom om dit te doen. Maar omdat daardie grepe van herinneringe, die manier waarop die skrikwekkende dinge wat gebeur het, onthou word, uiteindelik ’n mens se identiteit bepaal, is alles nie hopeloos nie. Die roman ontsnap aan determinisme soos wat Paul uiteindelik aan determinisme ontsnap – mens se geheue is jou identiteit. En juis omdat die geheue nie vas is nie, te nou vervleg is met die verbeelding, en die verbeelding ook plek het vir die ideale, die romantiese (verwysings na Treasure Island), is alternatiewe moontlik. Plek-plek wil dit lyk asof in ’n determinisme van ’n innerlike vaste self geglo word wat dreig om hierdie vloeiende beskouing van identiteit te ondermyn, maar uiteindelik is die verhaal een van ’n moeisame gestoei met herinneringe wat oorlewing moontlik maak.

Die roman bied egter geen maklike oplossing van die selfhelpboeksoort nie. As ons herinnerings onbetroubaar is en ook anders bedink kan word, raak dit geen gerieflike “Ek kan word net wat ek wil wees” of “As ek dit kan verbeel, kan ek dit word” nie. Daarvoor is die musiek van hierdie boek te subtiel. Die oplossing en fiksering van momente wat weer vervloei en ander maniere van besin oor die wêreld moontlik maak, is nie sonder meer ’n vrolike herprogrammering tot wat ek begeer om te wees, ’n fantasievervulling nie. Dit bly ’n proses, ’n stryd selfs, om die gegewe herinneringe, die ervarings, voortdurend te herbesoek en te herbedink, nie eenmalig afhandelbaar nie, en met ’n geleidelike en voortdurende verskuiwing van ’n mens se reaksies daarop. Die verhouding tussen Paul en Ben wat opgebou word ná jare waarin hulle mekaar nie gesien het nie, en die opbou van ’n broederlike band, is ’n belangrike korrektief vir ’n alte gemaklike oplossing. Hulle kom ook slegs met lang tussenposes bymekaar en kan dan iets nuut aan mekaar bied – hulle ontmoetings is “oomblikke van uitsonderlike onmiddellikheid en intimiteit”.

Paul bring Fukuyama se “einde van die geskiedenis” in verband met die individuele lewe en wonder of die einde van die geskiedenis bereik word as ’n mens jou eie narratief vertel het en ’n mens daarna die storie net kan herhaal. Hy wil hiermee verskil, al weet hy nie presies hoe nie – al kan herinneringe nie sonder meer uitgewis word nie, kan mens nie willekeurig ’n rooskleurige geskiedenis vir jouself skep en dan ’n ander identiteit aanneem nie.

Die oproep van herinneringe en die vertel daarvan is ’n inreiking na die self en terselfdertyd ook ’n uitreiking na ander. Geen maklike nuwe sekerhede kan sonder meer geskep word nie – die proses is veel morsiger en gryser as wit en swart, as geluk vs ongeluk.

Paul en Ben het dieselfde pa gehad, maar onthou hom nie dieselfde nie, en hulle gedeelde herinneringe maak ook ander moontlikhede vir onthou oop – en al neem dit nie die skrikwekkende weg nie, bring dit ten minste “minder woede”.

.......

Ek het hier bo verwys na die rol wat Marius Swart as vertaler gespeel het. Ek het nie die roman ook in Engels gelees nie, maar dit lees soos ’n Afrikaanse werk. Dit is in hart en niere Afrikaans, ’n Afrikaanse wêreld, en dit lewer ’n vars bydrae tot die Afrikaanse literêre wêreld omdat dit met diepgang verby herinneringsliteratuur strek, verby die maklike oorheersing van nostalgie of patos wat soms in Afrikaanse werke oorheers.

........

Skryf, kuns skep, is ’n poging om in aanraking te kom met ander en met jouself. Wanneer die twee halfbroers uiteindelik gesels, sê Ben dat hy skryf “om terug te gaan in myself”, terwyl Paul sê dat hy skryf om “uitwaarts te reik, om met iets buite myself in aanraking te kom” (204), waarop Ben reageer dat hulle skryfwerk eintlik dieselfde is: “[D]ie aktiwiteit, die motivering is dieselfde: ons doen dit om te connect” (205). Miskien is dit hoekom die boek iets eggo van diep binne ’n mens self – dit stig verbande en bring bymekaar en laat gaan weer. Dit maak ook gesprek met mekaar moontlik deur woorde aan ervarings en herinnerings te gee en deur elke herinnering herhaaldelik teen die agtergrond van ’n verskuiwende tydsverloop te herbedink.

Ek het hier bo verwys na die rol wat Marius Swart as vertaler gespeel het. Ek het nie die roman ook in Engels gelees nie, maar dit lees soos ’n Afrikaanse werk. Dit is in hart en niere Afrikaans, ’n Afrikaanse wêreld, en dit lewer ’n vars bydrae tot die Afrikaanse literêre wêreld omdat dit met diepgang verby herinneringsliteratuur strek, verby die maklike oorheersing van nostalgie of patos wat soms in Afrikaanse werke oorheers.

  • 3

Kommentaar

  • Riana Scheepers

    Uitstekende resensie. Belangrike punt is die humor in dié roman, weliswaar ironiese, swart humor.

  • Estelle+Neethling

    Duidelik 'n sonderlinge, merkwaardige werk en hierdie resensie opsigself 'n verhandeling in die kleine, briljant 'uitgepluis'. 'Herinneringsliteratuur' is vir my 'n hoogs interessante term.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top